Regter bepaal vandag Katrina se lastersaak se datums

Die saak waar die voormalige Namibiese onderwysminister, Katrina Hanse-Himarwa, wat in Julie 2019 skuldig bevind is op klagte van korrupsie, deur ‘n Swapo sentrale komitee-lid, Colleen van Wyk, vir laster gedagvaar word, is vandag voor die hof vir die bepaling van datums vir stukke. Van Wyk vra skadevergoeding van 250 000 Namibiese dollar. Sy sê dat Hanse-Himarwa op 25 en 26 Februarie vanjaar verskeie aanmerkings op Facebook oor haar gemaak het. Van Wyk meen dat daar na haar verwys word as ‘n dier, dat sy tussen Swapo en opposisie partye beweeg en dat sy moet bewys vir wie sy gestem het. Dit maak van haar oneerlik, en ontrou, veral teenoor Swapo en bring haar karakter in twyfel. Regter Shafimana Ueitele sal vandag die beplanning bekragtig.