Regsfirma skryf brief aan Kanadese eerste minister oor ReconAfrica

’n Regsfirma van Johannesburg vra die Kanadese eerste minister om in te gryp in ReconAfrica se boorwerk in die opvangsgebied van die Okavango-delta, ’n wêrelderfenisgebied. Divina Naidoo, ‘n prokureur van Schindlers Forensics, het gesê dié regsfirma het die brief aan Justin Trudeau gerig om hom daarop te wys ReconAfrica, ’n maatskappy wat in Kanada geregistreer is, is besig om in ’n wêrelderfenisgebied na olie en gas te soek. Dit is strydig met verskeie internasionale ooreenkomste oor die bewaring van die omgewing wat Kanada onderskryf en onderteken het, sê sy. Naidoo sê ‘n brief is ook aan die Groen Party in Kanada gerig. Sy benadruk dat ReconAfrica se projek teenstrydig met die Parys-klimaatsverdrag is.