Reddingspoging vir kartelbaas se seun dood 12

Minstens 12 vermeende misdadigers is dood op ‘n snelweg naby Hermosillo in die noordelike Mexikaanse deelstaat Sonora, in wat owerhede ‘n mislukte poging genoem het om die seun van ‘n kartelmoordenaar te red. Nog sewe het ontsnap en sommige is waarskynlik beseer, het die Sonora staatsprokureur se kantoor in ‘n verklaring gesê. Twee veiligheidsbeamptes is ná die kruisvuur gehospitaliseer, maar is nou in ‘n stabiele toestand. Die kantoor sê hulle vermoed die groep, gewapen met aanvalswapens, het probeer om die seun van Jesus Humberto Limon, ‘n vermeende huurmoordenaar wat vir ‘n faksie van die Sinaloa-kartel gewerk het, onder leiding van die seuns van Joaquin “El Chapo” Guzman, te red. Die vermeende huurmoordenaar se seun, Carlos Humberto, is minute tevore in hegtenis geneem.