Recon maak miljarde, Namibië maak niks

Dit wil voorkom asof die parlementêre staande komitee op natuurlike hulpbronne glad nie beïndruk is met Namcor se besigheidsbesluit om 10 persent aandheelhouding in ReconAfrica se plaaslike projek te aanvaar nie. Volgens die voorsitter van die komitee wat op die oomblik verhore hou, die voormalige minister van handel, Tjekero Tweya, is dit onaanvaarbaar dat Namcor geen voordeel uit die projek sal trek tot die produksiefase nie. Hy wil weet wat Namcor wil doen as die maatskappy nie genoegsame oliebronne ontdek nie. Die RDP-president Mike Kavekotora sê Recon se waarde as maatskappy word aangedryf deur sy belange in Namibië. Volgens Tweya het die maatskappy se plaaslike belange sy waarde van 141 miljoen Namibiese dollar in 2015 tot 25 miljard dollar in 2021 opgestoot met die eksplorasie in die Kavango-bekken wat net met die eerste put wat in April geboor is, 13 miljard Namibiese dollar bygevoeg aan die maatskappy se waarde. Die voorsitter van die Namcor-raad Jennifer Comalie het aan die komitee erken dat Namcor nog nie ‘n sent verdien het uit die aandeelhouding in die projek nie.