Ramaphosa skors regterpresident John Hlope van sy pligte

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, is van sy pligte geskors hangende ‘n besluit van die Nasionale Vergadering. Die Presidensie het in ‘n verklaring bevestig die besluit is gebaseer op ‘n aanbeveling van die Regterlike Dienskommissie in Julie. Die skorsing, wat onmiddellik van krag is, is op voorwaarde dat Hlophe alle gedeeltelik aangehoorde sake en uitsprake wat voorbehou is, afhandel. Die Regterlike Gedragstribunaal het bevind Hlophe het bepalings van die Grondwet oortree deur twee regters van die Konstitusionele Hof onbehoorlik te probeer beïnvloed om hul ampseed te oortree.