Ramaphosa sê SA gaan 2023 met vertroue binne

President Cyril Ramaphosa sê dié moeilike jaar nader sy einde en die fokus moet nou geplaas word op wat nodig is om die nuwe jaar beter te maak. Hy noem in sy weeklikse nuusbrief uitdagings soos die dodelike oorstromings in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Noordwes, die konflik tussen Rusland en Oekraïne en die elektrisiteitskrisis. Ramaphosa sê die regering het goeie rede om te glo dinge raak beter, soos ekonomiese herstel, meer werkskepping en die hantering van korrupsie. Hy voeg by misdaad, geslagsgeweld, armoede en honger veroorsaak steeds groot ellende.