Ramaphosa sê reisverbod is klap in die gesig van SA uitnemendheid

President Cyril Ramaphosa sê die reisverbod teen Suid-Afrika is ‘n klap in die gesig van uitnemendheid en kundigheid in Afrika. Suid-Afrikaanse wetenskaplikes was die eerstes om die Covid-19 Omikron-variant te identifiseer. Die variant het reeds in ten minste 24 lande regoor die wêreld sy verskyning gemaak. Ramaphosa sê die reisverbod teen Suid-Afrika en ‘n aantal ander lande in die Suider-Afrikaanse streek is betreurenswaardig, onregverdig en onwetenskaplik. Hy voeg by die verbod sal ongekende skade aan die reis- en toerismesektore veroorsaak, veral dié wat sakeondernemings en lewensbestaan ondersteun.