Queen Mary 2 kom Maandag in Walvis aan

Namport sê die passasiersvaartuig, die Queen Mary 2, kom Maandagoggend om half-ses in die hawe aan. Die owerheid sê hy sal 2 000 gaste verwelkom wat die dag in Walvisbaai sal spandeer. Dit is nie die eerste keer wat die vaartuig in Walvisbaai aandoen nie met die vorige besoek wat in 2020 was. Die Queen Mary 2 het 13 dekke met 1 363 kajuite, en is 334 meter lank. Nog ses passasiersvaartuie sal tot November in Walvisbaai vasmeer. Die owerheid sê Walvisbaai is aktief as bestemming vir vaartuie bemark wat tot dusver vanjaar groot sukses opgelewer het.