Putin rig ernstige waarskuwing oor NAVO en militêre infrastruktuur

Die Russiese president, Vladimir Putin, waarsku hy sal reageer indien die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie Swede en Finland se militêre infrastruktuur versterk. Dit volg nadat die twee nasies besluit het om by NAVO aan te sluit. Die stap word beskryf as die grootste strategiese gevolg nóg ná Rusland se inval in Oekraïne. Putin sê die versterking van NAVO word op ‘n aggressiewe manier deur die VSA aangewend om die reeds moeilike wêreldwye veiligheidsituasie te vererger. Intussen het Turkye kennis gegee dat hy moontlik die aansluiting van veral Swede sal teenstaan. Al 30 NAVO-lede moet instem vir nuwe lidmaatskap.