Puma Energy loods sy hernubare-energieplan 

Puma Energy Namibia het 24 sonkragprojekte by sy vulstasies en depots geïnstalleer met ‘n gesamentlike kapasiteit om ‘n geraamde 1 337 megawatt-ure jaarliks op te wek. Die installasies vorm deel van Puma se planne om teen die einde van die jaar meer as 200 sonkragprojekte regoor die wêreld te ontplooi, met ‘n globale koolstofbesparing van 9 815 ton. Die algemene bestuurder van Puma Adell Samuelson sê Puma is daartoe verbind om hernubare energie-oplossings te lewer met ‘n teiken 15 persent minder kweekhuisgasvrystellings teen die einde van 2025. Puma is een van die dominante rolspelers in die land se brandstof kleinhandelsektor met 61 vulstasies in Namibië, nadat hy verlede jaar planne aangekondig het om vyf nuwe persele by te voeg.