Protes oor hoë huis- en huurpryse in Portugal

Duisende mense het die strate van Lissabon en ander stede regoor Portugal ingevaar in protes teen die stygende huurgeld en huispryse in ‘n tyd wat hoë inflasie dit vir mense nog moeiliker maak om vir behuising te betaal. Volgens die voorsitter van die Habita-behuisingsgroep Rita Silva is die groot behuisingskrisis ‘n maatskaplike noodgeval. Portugal is een van Wes-Europa se armste lande, met regeringsdata wat toon dat meer as 50 persent van werkers verlede jaar minder as 1 000 euro per maand verdien het. Die maandelikse minimum loon is 760 euro. Huurpryse in Lissabon het sedert 2015 met 65 persent gestyg en huispryse het met 137 persent opgeskiet.