Proteas kort ‘n wonderwerk

Slegs ‘n wonderwerk kan Suid-Afrika van ‘n vernederende nederlaag red in die eerste toets teen Nieu-Seeland in Christchurch. Die Proteas is gister op die eerste dag vir net 95 uitgeboender en die gasheer is vandag uiteindelik vir 482 uitgeboul. Henry Nicholls het 105 aangeteken, Tom Blundell 96, Matt Henry ‘n onoorwonne 58 en die Suid-Afrikaans-gebore Neil Wagner 49. Duanne Olivier het drie paaltjies geneem. Suid-Afrika se treurmare het in sy tweede kolfbeurt voortgeduur. Die span sal môre hervat op 34 vir drie en het nog 353 lopies nodig om die gasheer weer te laat kolf.