‘Profeet’ Jackson Babi kry stewige vonnis vir renosterstropery

Die selfverklaarde profeet en renosterstroper Jackson Babi is in die Gobabis-landdroshof op 12 klagte in verband met renosterstropery gevonnis. Vir twee klagte van die onwettige jag van ‘n renoster is Jackson tot ‘n boete van 100 000 Namibiese dollar of twee jaar tronkstraf gevonnis. Hy moet of 50 000 dollar betaal of drie jaar tronk toe gaan vir die onwettige besit van renosterhorings, asook 20 000 dollar of tronkstraf van twee jaar vir korrupsie. Vir die onwettige besit van ammunisie, is hy tot ‘n boete van 5 000 dollar of een jaar tronkstraf gevonnis, vir rampokkery en geldwassery het hy ‘n boete van 30 000 dollar of twee jaar tronkstraf gekry. Babi het 14 dae om teen die vonnis te appelleer. Die Namibiese omgewingsministerie verwelkom die vonnis en hoop dit sal as afskrikmiddel vir misdadigers dien.