Privaatheidswet op pad in SA

Die nuwe Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting beskerm elke Suid-Afrikaner se reg op privaatheid. Sodra die wetgewing op 1 Julie in werking tree gaan die wyse waarop sakeondernemings persoonlike inligting hanteer, verander. Dit sal ook gemorspos en ongewenste bemarkingsmateriaal wat aan verbruikers gestuur word aan bande lê. Die wetgewing beskou persoonlike inligting as waardevol en dwing almal wat dit ontvang, versamel, stoor, gebruik of vernietig om dit verantwoordelik te doen. Die wet kan elke aspek van ‘n onderneming raak omdat dit van toepassing is op die persoonlike inligting van onder meer werknemers, verskaffers, pasiënte, kliënte en derde partye. Dit sluit in die stelsels wat in plek is om inligting te verwerk. Die sakebestuurder by Workforce Staffing, Jeandie Leone sê die verpligtings van ondernemings onder die wet sluit in om die gebruik van persoonlike inligting te beperk, om dit te kan regverdig en om sekuriteitsmaatreëls in plek te hê om die inligting te beskerm.