Prins Philip word vandag ter ruste gelê

Die nuustoneel in Brittanje word vandag oorheers deur die begrafnis van wyle Prins Philip. Slegs 30 naby familielede en vriende van die prins sal in die kerk mag wees wanneer die Hertog van Edinburgh in die St George-kapel in Windsor ter ruste gelê word. Prins William en Prins Harry sal saam met hulle pa, Charles, en ander lede van die koninklike familie agter die doodskis loop. Die koningin sal nie aan die optog deelneem nie. Seremoniële ondersteuning sal deur meer as 700 weermagpersoneel van die Koninklike Vloot, Koninklike Mariniers, die Britse Leër en die Koninklike Lugmag verleen word. Volgens die Aartsbiskop van Canterbury Justin Welby het wyle Prins Philip sy begrafnis reeds lank voor sy dood beplan.