Priester beskerm nagmaalbrood deur vrou te byt

‘n Katolieke priester het ‘n vrou gebyt tydens ‘n dispuut oor nagmaalbrood by Sondagmis, volgens die polisie in St. Cloud, Florida. Die 66-jarige priester het nagmaal by die St. Thomas Aquinas Katolieke Kerk gehou toe die diens buite beheer geraak het.

’n Vrou wat nagmaal probeer ontvang het, het aan die polisie gesê die priester het geweier dat sy nagmaal gebruik en vir haar gesê sy “het nie die nodige stappe gedoen nie.”

In reaksie het sy probeer om ‘n nagmaalbrood, wat die priester vasgehou het, te gryp. “Die priester het haar egter gegryp en haar aan die arm gebyt,” lui die polisieverklaring.

Foto: Verskaf

Die priester het ‘n drasties verskillende weergawe van gebeure aan die polisie beskryf. Hy het aan hulle gesê die vrou is reeds vroeër daardie dag meegedeel dat sy nie aan die nagmaal kan deelneem nie, maar dat sy teruggekom het en hom “aangeval” het, en die skinkbord met nagmaalbrood “gegryp” het.

Die priester het glo aan die polisie gesê hy voel hy het geen ander keuse gehad as om die brood te beskerm nie, want dit word as heilig beskou en nie net enige-iemand kan dit kom gryp nie.

Getuies het glo sy weergawe van die gebeure gerugsteun, en plaaslike aanklaers besluit nou of hy moet teregstaan op aanklagte van aanranding.