President Geingob in mausoleum by Helde-akker ter ruste gelê

President Hage Gottfried Geingob is so pas met volle militêre eerbewys in ‘n staatsbegrafnis by die Helde-akker aan die suidelike buitewyke van Windhoek begrawe. Sy oorskot is in ‘n kis gedrapeer met die Namibiese vlag, in ‘n graf in ‘n individuele mausoleum ter ruste gelê. ‘n 21-kanon saluut is uitgevoer terwyl die kis in die graf neergelaat is. Die vlag en ander begrafnis-toebehore is amptelik oorhandig aan sy weduwee, voormalige eerste dame Monica Geingos. President Nangolo Mbumba het in sy begrafnis-boodskap afskeid geneem.