Pres. Ramaphosa besoek Kinshasa vir SAOG-beraad

Suid-Afrikaanse President Cyril Ramaphosa onderneem môre en Woensdag ʼn werksbesoek aan Kinshasa in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Ramaphosa sal deelneem aan die 42ste Gewone Spitsberaad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap vir Staats- en Regeringshoofde. Die leiers sal ʼn voorgestelde wysiging aan die protokol oor die ontwikkeling van toerisme in die streek bespreek, asook ʼn wysiging aan die Verdrag van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap wat die erkenning van die SAOG-parlement as ʼn SAOG-instelling behels.