Premier van Libië oorleef aanslag op sy lewe

Die eerste minister van Libië, Abdulhamid al-Dbeibah, het na wat berig word vanoggend ‘n aanslag op sy lewe oorleef. Die aanvallers het verskeie rondes ammunisie afgevuur op die motor waarin hy deur die hoofstad Tripoli gery het. Hy is ongedeerd. Die aanvallers het gevlug en volgens Dbeibah was dit ‘n sluipmoordpoging. Internasionale nuusagentskappe berig die voorval kan die krisis oor die beheer van die land vererger, nadat hy aangekondig het hy erken nie vandag se verkiesing in die parlement om hom te vervang nie.