Pous betreur oorlog in Heilige Land

Pous Franciskus betreur die oorlog in die Heilige Land waar Palestynse gesondheidsamptenare sê lugaanvalle op die Gazastrook het op Oukersaand minstens 78 mense doodgemaak. Israeliese aanvalle wat ure voor middernag begin het, het tot op Kersdag voortgeduur. Die pous het tydens die Kersfees aandmis in die Sint-Pietersbasiliek in Rome gesê: “Vanaand is ons harte in Bethlehem, waar die Vredevors weereens verwerp word deur die futiele logika van oorlog, deur die wapenbotsing wat hom selfs vandag verhinder om plek in die wêreld te vind”. Geestelikes het feesvieringe in Bethlehem, die Palestynse stad aan die Wesoewer wat deur Israel beset is, gekanselleer. Geboortebeeldjies in kerke is te midde van puin en doringdraad geplaas in solidariteit met die mense van Gaza.