Pous Benedictus lê vanaf vandag in staatsie

Pous Benedictus die Sestiende sal op Donderdag 5 Januarie begrawe word. Dié voormalige hoof van die Rooms-Katolieke Kerk is in die ouderdom van 95 oorlede. Hy sal vanaf vandag in staatsie lê in die St. Petrus Basilika. Die begrafnis sal in die plein voor die Basilika plaasvind en deur pous Franciskus waargeneem word. Namibiese President Hage Geingob het ook sy medelye oor die heengaan van pous Benedictus aan sy familie, die Katolieke Kerk en pous Franciskus uitgespreek. Geingob sê hy het die eer gehad om hom by sy somerhuis buite Rome te ontmoet en ‘n gesprek met hom oor die rol van geloof in die bou van verdraagsame gemeenskappe gehad.