Polisieman in hof na beweerde selfmoord-poging

’n 37-jarige polisiebeampte wat na bewering ’n polisievoertuig aan die brand gesteek het in ’n poging om selfmoord te pleeg, is borgtog in die Keetmanshoop-landdroshof geweier. Die beskuldigde, Uakauta Japuhua, staan tereg op ‘n klag van opsetlike saakbeskadiging. Japuhua het na bewering Saterdag in die vroeë oggendure gesien hoe sy meisie ‘n ander man soen, en hulle het ‘n argument gehad. Hy het toe glo die polisievoertuig in ‘n veld in Keetmanshoop se Industrie-woongebied ingery en dit aan die brand gesteek met die doel om selfmoord te pleeg. Luidens die polisieverslag het hy in die voertuig geklim, die deure toegemaak en die vensters opgerol. Nadat hy egter die hitte van die vlamme gevoel het, het hy uitgeklim en die brandende voertuig probeer blus. Die verhoor is tot 18 Junie uitgestel.