Polisiebeamptes beseer in panga-aanval

Drie polisiebeamptes ontvang mediese aandag nadat hulle na bewering deur ‘n 37-jarige verstandelik gestremde man by Ongenga-dorpie in die Oshana-streek aangeval is. NamPol Oshana-streekbevelvoerder, kommissaris Naftal Lungameni Sakaria, sê vier beamptes is na ‘n toneel gestuur waar die verdagte glo besig was om sy huisgenote te steur. Die verdagte het die vier beamptes met ‘n panga aangeval. ‘n Adjudant-offisier het beserings aan sy regterarm en -been opgedoen en hy is in die Ondangwa Privaat-hospitaal opgeneem. ‘n Sersant het ‘n kopwond opgedoen en is na die Oshakati Staatshospitaal gestuur vir X-strale, en nog ‘n sersant is lig beseer. ’n Konstabel het ongedeerd daarvan afgekom. Die verdagte is in hegtenis geneem en word by die Ondangwa-polisiestasie aangehou.