Kosmos 94.1 Ruimtefoto van die week: Lensvormige ruimte-stof in meer detail

Hierdie nuwe beeld van die NASA/ESA Hubble-ruimteteleskoop gee ‘n rand-aansig van die lensvormige sterrestelsel NGC 4753. Hierdie tipe sterrestelsels het ‘n elliptiese vorm en swak gedefinieerde spiraalarms.

Hierdie beeld is die skerpste foto tot dusver, wat Hubble se ongelooflike krag en vermoë om komplekse stofstrukture te bekyk, ten toon stel. NGC 4753 woon ongeveer 60 miljoen lig-jare van die aarde af in die sterrebeeld Maagd en is vir die eerste keer in 1784 deur die sterrekundige William Herschel ontdek. Dit is ‘n lid van die NGC 4753 Groep sterrestelsels binne die Maagd II-wolk, met ongeveer 100 sterrestelsels en sterrestelsel-swerms.

Daar word geglo dat hierdie sterrestelsel die resultaat is van ‘n sterrestelsel-samesmelting met ‘n nabygeleë dwerg-sterrestelsel ongeveer 1,3 miljard jaar gelede.

Daar word ook nou geglo dat die meeste van die massa in die sterrestelsel in ‘n effens afgeplatte sferiese stralekrans van donker materie lê. Donker materie is ‘n vorm van materie wat tans nie direk waargeneem kan word nie, maar daar word vermoed dat dit ongeveer 85% van alle materie in die heelal uitmaak. Daar word na dit verwys as “donker” omdat dit blykbaar nie met die elektromagnetiese veld in wisselwerking is nie, en dus skynbaar nie lig uitstraal, reflekteer of breek nie.

Foto verskaf: ESA/Hubble & NASA, L. Kelsey