Polisie help blykbaar weer vir Rooies

Plaaslike media berig dat ‘n ondersoek van stapel gestuur is teen twee polisiebeamptes van Noordoewer wat na bewering Woensdag vir oudlanddros Walter ‘Rooies’ Mostert gehelp het om ongesiens vanaf Suid-Afrika die land binne te kom. Volgens die bevelvoerder vir die Karas-streek, kommissaris David Indongo, het een van die polisiebeamptes blykbaar Mostert vir ‘n tyd in sy kamer versteek. Toe sy kollega om tien-uur daardie aand van diens af kom, het hulle vir Mostert met laasgenoemde se voertuig by ‘n lodge ‘n kamer bespreek waar hulle hom glo om ses-uur Donderdagoggend weer opgelaai het. Indongo sê hy is toe 20-kilometer uit Noordoewer gery en langs die B1-hoofpad afgelaai sodat hy verder kon ryloop. Dit sal die tweede keer wees wat polisie aangekla word vir sameswering met Mostert. Inspekteur Reinhold Nekavu het ook na bewering op 5 November Mostert bygestaan om landuit te vlug. Mostert het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê hy moes wegkom omdat daar glo ‘n poging op sy lewe was. Hy sal Dinsdag in Windhoek in die hof verskyn.