Polisie doodstil oor ‘vermiste’ diamante ter waarde van N$14m

Daar is steeds geen stukke deur die Namibiese polisie ingedien in die saak waar die likwidateurs Dave Bruni en Ian McClaren die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, saam met die veiligheidsministerie, die ministerie van myne en energie, die diamantkommissaris en die meester van die hoërhof, hof toe gesleep het nie. Regter Orben Sibeya het instruksie gegee dat die verdediging teen Vrydag ingedien moet word. Die saak handel oor 14 miljoen Namibiese dollar se diamante. Die twee sê in hul stukke hulle is in 2010 aangestel om die bankrot Bret Investments te likwideer maar, ‘n regsgeding het ontstaan tussen die maatskappy en ander partye en dus, is 2 700,45 karaat diamante, wat bates van Bret Investments was, oorhandig aan die Namibiese polisie vir veilige bewaring. In 2018, is die geding gefinaliseer en die twee aansoekers het toe ‘n permit by die ministerie van myne en energie bekom om besit te neem van die diamante. Hulle sê nieteenstaande verskeie aansoeke dat die polisie die edelstene oorhandig, het hulle tot op hede niks ontvang nie en hul permitte het ook reeds in 2019 verval. Hulle vra regter Orben Sibeya vir ‘n bevel om of die diamante te bekom of vir ‘n betaling van 14 miljoen Namibiese dollar.