Planne om kameelperde in Mosambiek te hervestig

Die Kameelperd-stigting sê hulle beraam planne vir hulle mees ambisieuse kameelperd-hervestiging. ‘n Woordvoerder het bevestig dat hulle oor die volgende vyf jaar in samewerking met die Mosambiekse regering en ander rolspelers meer as 350 kameelperde gaan hervestig in gebiede waar min van dié diere voorkom. Dit sluit die Zinave en Banhine nasionale parke, Maputo spesiale reservaat en Karingani-wildreservaat in. Die reeks oorplasings sal die bevolkings meer as verdubbel. Dit sal ook die suidelike kameelperde weer in hulle geskiedkundige gebied hervestig met meer as drie miljoen akker waar die spesie kan gedy.