Phishing, smishing en vishing raak alledaags in Namibië
TransUnion sê die 2023 Omnichannel-bedrogverslag toon dat 34 persent van Namibiese verbruikers sê dat hulle tussen September en Desember verlede jaar deur slenters geteiken is. Die peiling toon dat ‘phishing’-pogings die meeste voorgekom het. Phising is waar swendelaars probeer om verbruikers te kry om persoonlike inligting te openbaar deur middel van bedrieglike e-posse, webwerwe of sosiale plasings. ‘Smishing’ – waar bedrieglike teksboodskappe probeer om mense te mislei om data te openbaar – is ervaar deur 28 persent van Namibiërs wat geteiken is, terwyl 24 persent deur ‘vishing’ geteiken is, waar bedrieglike oproepe poog om persoonlike inligting te bekom. Die verslag toon dat amper 70 persent van Namibiërs kommer het oor die oorneming van hul bankrekenings, 65 persent het kommer oor identiteitsdiefstal en 64 persent het kommer oor gesteelde kredietkaarte of bedrieglike kaarttransaksies.