Pakistan speel gasheer vir Afghan-krisis vergadering

‘n Vergadering in verband met die toenemende humanitêre krisis in Afghanistan, word vandag in Pakistan gehou. Die Organisasie vir Islamitiese Samewerking het die byeenkoms gereël. Meer as 20 miljoen landsburgers in Afghanistan ervaar erge voedseltekorte en die Pakistanse premier Imran Khan sê as daar nie onmiddellik opgetree word nie, sal die land in chaos ontaard. Afghanistan se ekonomie gaan gebuk onder erge uitdagings en die land se gesondheidstelsel het omtrent heeltemal ineengestort. Afgevaardigdes van die VN sowel as internasionale finansiële instansies woon ook die vergadering by. Die Taliban het in Augustus mag in Afghanistan oorgeneem maar word nie erken deur regerings regoor die wêreld nie en daarom ontbreek hulp en bystand.