Padveiligheid in die voorgrond met feestyd
Die polisiemag is hard aan die werk by padblokkades regoor die land met die jaarlikse feestyd-padveiligheidsveldtog. Die Motorvoertuig-ongelukkefonds sê in sy jongste opdatering dat daar tussen 3 en 11 Desember reeds 73 motorongelukke met 96 beserings en nege sterftes aangemeld is. Belanghebbendes in die voorkoming van ongelukke, misdaad en motoriste-bewustheid gedurende die feestyd is by die Otjiwarongo padblokkade om verkeersreëls en regulasies af te dwing. Nampol streekbevelvoerder in Otjozondupa, Hendrik Shiwede, sê die veldtog verloop soos beplan en die paaie is veiliger as ooit tevore.