Pa in Mosambiek vas vir poging om sy albino kinders te verkoop

’n Pa wat na bewering sy drie kinders met albinisme wou verkoop, is in Mosambiek in hegtenis geneem voordat hy die transaksie kon beklink. Die polisie in die noordwestelike streek van Tete sê drie kinders tussen die ouderdomme van nege en 16 jaar is gered ná ‘n anonieme wenk. Hul oom is saam met hul pa in hegtenis geneem. Die twee het na bewering beplan om die minderjariges na die naburige Malawi te vervoer waar hulle vir ongeveer 40 000 Amerikaanse dollar verkoop kon word. Albei mans ontken enige betrokkenheid by die saak. Sommige Afrika-lande het groot uitdagings met die beskerming van mense met albinisme omdat hul liggaamsdele in rituele gebruik word met die oortuiging dat dit geluk en rykdom bring.