Oxford se woord van die jaar is ‘Rizz’

Die Oxford University Press, die wêreld se tweede oudste akademiese drukkery en uitgewer van die Oxford English Dictionary het ‘Rizz’ as sy woord van die jaar gekies. Dit kom van die woord charisma, en verwys na iemand se vermoë om ʼn ander persoon aan te trek deur styl, sjarme of aantreklikheid. Die woord is gewild onder Generasie Z. Ander mededingers vir woord van die jaar was prompt, situationship en Swiftie. Oxford se woord van die jaar was verlede jaar goblin mode, wat ʼn informele term is wat skaamtelose selfbehepte, lui, slordige of gierige gedrag beskryf.