Oudste DNS in Groenland gevind

Wetenskaplikes het die oudste DNS tot nog toe ontdek wat nuwe kennis aan die lig gebring het oor lewe twee miljoen jaar gelede aan die noordpunt van Groenland. Die land is nou ‘n barre Arktiese woestyn, maar het eens ‘n verskeidenheid diere en bome gehad. ‘n Geoloog en gletser-kenner aan die Universiteit van Kopenhagen, Kurt Kjær, sê navorsers het omgewings-DNS, ook bekend as e-DNS, uit grondmonsters onttrek. Dit dra genetiese materiaal van onder meer hare, afval en ontbinde karkasse.