Oudpremier van Pakistan se aanhouding met twee weke verleng

‘n Hof in Pakistan het die aanhouding van die voormalige eerste minister Imran Khan met 14 dae verleng om aanklagte dat hy staatsgeheime uitgelek het, te ondersoek. Khan se regsverteenwoordiger sê ‘n spesiale hofsitting is gehou by die Attock-gevangenis, waar Khan begin het om ‘n drie jaar-vonnis uit te dien. Die verlenging van sy aanhouding kom ‘n dag nadat die hooggeregshof in Islamabad Khan se skuldigbevinding en tronkstraf van drie jaar weens korrupsie-aanklagte opgeskort het. Talle aanklagte is teen hom aanhangig gemaak sedert hy in April verlede jaar in ‘n mosie van wantroue sy amp as eerste minister afgestaan het. Khan ontken al die aanklagte teen hom, en sê dit is polities gemotiveerd.