Oudburgemeester van Usakos glo weer in die sop oor laster

Daar is weer drama by die Usakos-dorpsraad wat sonder politieke leierskap bly. Dit volg na verkiesings vir nuwe politieke leierskap nie kon voortgaan nie nadat die IPChange-raadslid en voormalige burgemeester, Wilfred Wiese, na bewering die regsproses ontwrig het. Volgens een van die Swapo-raadslede, Irene Simeon-Kurtz, se prokureur het Wiese die voorsittende beampte onderbreek en die vergadering nietig verklaar. Wiese het glo tydens die verkiesing en beëdigingseremonie vir Simeon-Kurtz daarvan beskuldig dat sy oneties is en die dorpsraad geld vir munisipale dienste skuld. Simeon-Kurtz het die bewering ontken en deur haar prokureurs vir Wiese gewaarsku oor die beweerde lasterlike opmerkings. Metcalfe Beukes-prokureurs het ‘n bedrag van 500 000 Namibiese dollar binne 14 dae van Wiese geëis en gesê dit is nie die eerste keer dat hy ongegronde bewerings teen Simeon-Kurtz maak nie. Die prokureurs het verder gedreig om Wiese hof toe te sleep sou hy versuim om die bedrag te betaal.