Ou Lokasie-slagoffers moet erkenning kry

Swanu sê slagoffers van die sogenaamde Ou Lokasie-verskuiwings moet herdenk word. Die gemeenskap is op 10 Desember 1959 gedwing om die gebied, waar Hochlandpark en Pionierspark nou is, te verlaat na Katutura toe om die swart woonbuurt te stig. Elf mense is deur die polisie doodgeskiet en 44 beseer. Die ontslape vryheidstryd-leier Clemens Kapuuo moes omgepraat word om sy perseel te verlaat of hy was ook ernstig beseer. Swanu se president, Evalistus Kaaronda sê die regering het tot dusver niks gedoen om die belangrike dag en die slagoffers daarvan te onthou en herdenk nie. Namibië herdenk op 10 Desember Menseregtedag.