Oshana-polisie verskerp gereedheid vir feestyd

Die Namibiese polisie in die Oshana-streek het die publiek gewaarsku om waaksaam te wees vir verdagte bewegings en mense by outomatiese tellermasjiene of wanneer hulle uit ‘n handelsbank kom nadat hulle groot bedrae geld onttrek het. Die Oshana-streek gaan volgens berigte gebuk onder misdaad met ‘n beraamde 1 800 gevalle wat in 90 dae aangemeld is. Dit kom neer op 20 gevalle daagliks. Met die hoë misdaadsyfers in die streek, het Kosmos 94.1 Nuus met die streeksbevelvoerder, kommissaris Naftal Sakaria, gepraat oor of Nampol gereed is vir die Desember-vakansie.