Opuwo-bankroof: Ses vas in Rundu

Ses verdagtes is in Rundu in hegtenis geneem in verband met die opspraakwekkende 2 miljoen Namibiese dollar bedrog- en diefstalsaak by Bank Windhoek se Opuwo tak. Nampol se hoof van kommersiële ondersoeke in Rundu, hoofinspekteur Mulele Mukubesa, sê hulle werk saam met Bank Windhoek se forensiese departement en het die eerste verdagte in die tak op die dorp gearresteer nadat hy kontant oor die toonbank probeer trek het. Die ander is later op verskeie plekke in die dorp opgetel. Daar word beweer dat die meesterbrein in die saak, Nico Rebebe, die verdagtes werk op ‘n plaas aangebied het, maar hulle moes rekeninge by Bank Windhoek oopmaak sodat hy hul maandelikse betaling kan fasiliteer. Die verdagtes het tussen 200 000 en 500 000 Namibiese dollar onttrek. Die verdagtes word by die Rundu polisiestasie aangehou terwyl die ondersoek voortgaan.