Oppenheimers kry hofbevel teen eksplorasie in Zim

Die Oppenheimer-familie het ‘n hofinterdik in Zimbabwe bekom om mineraaleksplorasie op sy grond in Matabeleland-Suid te keer. Die Shangani Ranch is 65 000 hektaar groot en huisves rondom 8 000 bees maar daar is glo goud, silwer, koper, en talle ander minerale ook teenwoordig. Die familie het hulle tot die howe gewend deur hul maatskappy, Shangani Holistic, na ‘n Suid-Afrikaanse firma Pearline Mineral Exploration opnames van die eiendom begin doen het. Regter Siyabona Paul Musithu in die hooggeregshof in Harare het beslis dat Pearline Mineral Exploration alle mynaktiwiteite by die plaas moet staak. Die Oppenheimers het aangevoer die plaas het 400 werknemers wat ‘n onderneming bedryf wat beesvleis na die Verenigde Koninkryk uitvoer.