Opgaar van entstof, Afrika mis teiken

Die Wêreldgesondheidsorganisasie se Afrika-streek, sê die opgaar van Covid-19-entstof het die hele vasteland benadeel. Dit bring mee dat 42 van die Afrika se 54 lande nou die wêreld-teiken om die mees kwesbare mense teen die einde van hierdie maand teen Covid-19 ingeënt te hê, misloop. Dis as die huidige pas van die aflewering van entstof en inentings so voortgaan. Afrika het meer as 143 miljoen dosisse ontvang en 39 miljoen mense het inentings gekry. Net sowat 3 persent van die vasteland se bevolking is dus volledig ingeënt. Matshidiso Moeti van die WGO sê dis ontstellend.