Operasie Basadi: 26 gearresteer vir huishoudelike geweld

Die eerste fase van die Namibiese polisie se pas afgelope Operasie Basadi is deur die bevelvoerder, generaal-majoor Anna-Marie Nainda, as ‘n reuse-sukses beskryf. Operasie Basadi is deur 1 588 vroue van die Vroue-Netwerk-strukture landwyd uitgevoer en die fokus was op verdagtes in gevalle van geweld teen vroue, kinders en bejaardes. Altesaam 26 gevalle van huishoudelike geweld is aangemeld, 26 lasbriewe vir arrestasies, twee formele waarskuwings en agt beskermingsbevele is vir huishoudelike geweld uitgereik. Vyf lasbriewe is uitgereik vir die versuim om kinderonderhoud te betaal, asook vier formele waarskuwings vir kinderverwaarlosing.