Op die vooraand van 33 jaar van vryheid lyk dinge maar treurig

Op die vooraand van Namibië se 33ste herdenking van Onafhanklikheid, kom die nuus dat meer as 357 000 Namibiese kinders geregistreer is vir die kwesbare kinder-toelaag. Die getal kinders het sedert 2011 van net meer as 150 000 tot die huidige syfer gestyg. Die regering hou voet by stuk dat sy dekking verbeter en daarom die styging in die getalle, maar kenners sê armoede neem toe. Die toelaag, wat met 100 Namibiese dollar verhoog is, beloop nou 350 dollar maandeliks en in die afgelope 5 jaar is meer as 5,1 miljard dollar aan die toelaag bestee. Die finansminister Ipumbu Shiimi het tydens sy onlangse begroting gesê die program moet uitgebrei word omdat 30 000 kinders op die waglys is om die toelaag te ontvang. Intussen word daar ‘n landswye protes môre verwag in opstand teen werkloosheid. Die polisiehoof, luitenant-generaal Joseph Shikongo het volgens wat berig word aan Michael Amushelelo gevra om nie die optog te hou nie, as gevolg van sekuriteitskommernisse maar, Amushelelo sê hy gaan voort.