Oostenryk lê swaar vonnisse op ná 2020-aanval in Wene

‘n Oostenrykse hof het swaar vonnisse opgelê aan vier van die ses verdagtes in ‘n djihadiste-aanval in 2020. Die ses verdagtes is daarvan aangekla dat hulle die 20-jarige aanvaller gehelp het met die beplanning van die aanval op 2 November 2020 in die sentrale deel van die hoofstad Wene. Vier mense is in die aanval dood en 20 is gewond. Die aanvaller, wat Oostenrykse en Noord-Masedoniese burgerskap gehad het, is kort ná die aanval doodgeskiet. Twee van die verdagtes is lewenslange tronkstrof opgelê weens medepligtigheid aan die dood van die slagoffers, terwyl die ander twee onderskeidelik 19 en 20 jaar tronkstraf gekry het. Nog twee mans se vonnisse is opgeskort. Al ses verdagtes, almal ondersteuners van die Islamitiese Staat groep, is skuldig bevind op aanklagte dat hulle lede van ‘n terreur-organisasie is.