Oos-Europa: Planne rondom olie-voorsiening staan so…

Brent ru-olie verhandel vanoggend rondom 126 Amerikaanse dollar ‘n vat. Die kommoditeit het gister die hoogte ingeskiet met die nuus dat die Biden-administrasie ‘n verbod op die aankoop van Russiese olie wil plaas en het rondom 137 dollar verhandel. Maar, kenners meen so eenvoudig is dit nie. Al die stelsels in die VSA om geraffineerde olieprodukte te vervaardig is gestel op Russiese olie. Russiese olie is dikker en minder vloeibaar as Arabiese olie of olie wat die VSA in die Meksikaanse Golf ontgin en dit sal ‘n geruime tyd neem, en baie geld kos, om die stelsels aan te pas vir ‘n dunner ru-olieproduk. Die VSA voer ongeveer 8 persent van sy totale olie-invoere vanuit Rusland in. Intussen word daar hard gewerk om alternatiewe bronne van ru-olie in die mark te plaas. Sanksies wat die Trump-administrasie in 2019 op Venezuela ingestel het, word nou bespreek en oor die naweek was daar samesprekings tussen die twee lande om die sanksies ter syde te stel. Daar word ook hard gewerk om Iran terug te kry in die 2015 kernooreenkoms sodat die Trump-sanksies op sy olie-uitvoere ook gelig kan word. Rusland het wel gevra dat sou Iran weer toegelaat word dat die sanksies teen hom nie sy handel met Iran moet beïnvloed nie. Opul en sy vennote het ook beslis dat produksie vir Maart op hul standaard 400 000 vate daagliks sal toeneem, ongeag die chaos in Oos-Europa.