Oorsaak van verwoestende wolkekrabberbrand in China steeds onbekend

Die 42-verdieping gebou van China Telecom het in die stad Changsha afgebrand. Changsha is die hoofstad van China se suidelike Hunan-provinsie en is die tuiste van meer as tien miljoen mense. Tientalle verdiepings van die gebou van meer as 200 meter was Vrydagmiddag aan die brand met groot stukke wat afgeval het. Volgens media in die land was daar geen slagoffers nie maar video’s op sosiale media wys hoe mense binne die gebou verskrik toekyk. Die brand is uiteindelik geblus maar die oorsaak is steeds onbekend. Voorlopige ondersoeke toon dat die buitemuur van die gebou aan die brand geraak het. Die gebied rondom die gebou is afgesper en die ondersoek duur voort.