Oorlogsveterane wil nie op 60 aftree nie, jeug sê dis selfsugtig

Aanmerkings deur oorlogsveterane by ‘n reünie vir diegene wat in ballingskap gebore is by Omutsegondjamba in die Oshikoto-streek, het reaksie uitgelok. Die veterane het ‘n beroep op die regering gedoen om die aftreeouderdom van 60 vir veterane in die staatsdiens te verleng. Kommentaar op sosiale media het die aanmerkings veroordeel en sê met die huidige krisis met jeugwerkloosheid is dit uiters selfsugtig, veral omdat hulle voordele as veterane ook ontvang. Luidens die wet in verband met die staatsdiens, is dit moontlik om tot op die ouderdom van 67 in die openbare sektor te werk, solank daar motivering daarvoor is. Maar, jongmense meen as amptenare nie aftree nie, dan is daar geen geleenthede vir hulle nie. Werkskepping het plaaslik groot uitdagings en al hoe meer mense werp hulle aan die informele sektor om ‘n lewe te maak. Die Internasionale Arbeidsorganisasie sê dat die informele sektor 56 persent van Namibië se werksmag beslaan. Die Dynamic Informal Traders’ Association het onlangs gesê dat die sektor plaaslik met 5 persent jaarliks groei. Die Namibiese Statistieke-agentskap het in 2018 bepaal dat die sektor reeds 30 persent van die land se ekonomie bydra.