Ooreenkoms vir uitvoer van Oekraïnse graan (dalk) vandag onderteken

Turkye sê ‘n ooreenkoms is met Rusland bereik om Oekraïne toe te laat om die uitvoer van graan deur die Swart See te hervat. Dit sal vandag in Instanbul deur die drie lande en die VN se sekretaris-generaal Antonio Guterres onderteken word. Wêreldtekorte aan graan kom sedert die oorlog begin het, voor, en pryse het skerp gestyg. Sowat 23 miljoen ton graan sit in silo’s in Odesa vas. Daar word berig dat Oekraïnse owerhede reeds gesê hulle is versigtig optimisties omdat hulle nie die Russe vertrou nie. Die ooreenkoms bepaal dat Oekraïnse vaartuie  graanskepe in en uit die hawe lei, dat Rusland instem tot ‘n wapenstilstand terwyl besendings beweeg en dat Russiese uitvoer van graan en kunsmis via die Swart See vergemaklik word.