Amushelelo wag nog om te hoor of staat sal betaal vir advokaat

Die korrupsie- en geldwasserysaak van die omstrede NEFF-lid, Michael Amushelelo en sy sakevennoot Gregory Cloete is toe nie Donderdag voor adjunk-regterpresident Hosea Angula voortgesit nie. Die twee se prokureur Khadila Amoomo het aan die regter gesê die twee benodig regshulp vir ‘n advokaat en terwyl hulle reeds aansoek gedoen het, is daar nog geen antwoord nie. Die twee sê hulle het nie geld om ‘n advokaat te betaal nie as gevolg van die kostes vir Amushelelo se onsuksesvolle borgaansoek in verband met sy aanhitsingsaak. Angula het die saak tot 8 September uitgestel vir regshulp se beslissing maar gemaan dat dit die laaste uitstel in die verband is.