‘Onvoldoende beplanning’ met 24-uur Bots-grenspos

Daar word kritiek uitgespreek oor hoe die proses, om die Trans-Kalahari-Mamuno grenspos met Botswana vir 24 uur oop te hou, hanteer is. Die aankondiging is onlangs gemaak as gevolg van die volumes verkeer wat die grenspos hanteer en het groot verligting, veral onder kommersiële vervoerders, gebring. Maar, die nodige infrastruktuur is nie by die grenspos opgerig nie en kritici sê die proses is weereens sonder enige beplanning, en hals oor kop deur owerhede hanteer. Die Namibiese Inkomste-agentskap, NamRA, het byvoorbeeld 172 akkommodasie-eenhede nodig omdat hy sy personeel getalle moet vermeeder, maar, die infrastruktuur is nie daar nie. Die agentskap se kommissaris Sam Shivute sê die uitdaging geniet op die oomblik aandag en is ‘n prioriteit. Konstruksie, sê hy, sal binnekort begin en 30 eenhede behoort in ses weke voltooi te wees. Behuising vir amptenare van binnelandse sake ontbreek ook, en nie net by die spesifieke grenspos nie.