Ontsporing: 195 ongelukke by TransNamib in 4 jaar

Die ontsporing van nog ‘n TransNamib lokomotief by Swakopmund het die uitdagings van die beleërde vervoeroperateur weer in die soeklig gebring. TransNamib het in die afgelope vier jaar 195 ongelukke gehad as gevolg van swak spoor infrastruktuur. Volgens die hoof uitvoerende beampte, Johny Smith, bestee die maatskappy net 14 persent van wat hy moet op die instandhouding van spoorweë regoor die land, met net minder as 26 000 dollar per kilometer, teenoor die 185 000 dollar, wat nodig is. Daar is ook ‘n tekort aan lokomotiewe. Die woordvoerder, Abigail Raubenheimer, het aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat die tekorte reeds meer as vier jaar duur. Meeste is meer as 50 jaar oud en daar is ‘n strategiese plan om 33 op te knap. Intussen is vier lokomotiewe gehuur met die beplanning om nog vyf op die manier aan te skaf. Sondagmiddag se ontsporing was die tweede die jaar, op dieselfde plek. Daar was geen vrag of passasiers nie, en ook geen beserings nie.